Na ‘n onstuimige en wisselvallige 2020, is meeste rolspelers in die finansiële markte versigtig om sterk sienings te formuleer oor wat in finansiële markte in 2021 gaan gebeur. PBB gaan in die nuusbrief sy beleggingstrategie aan kliënte voorhou. Die beleggingsraamwerk waarbinne die beleggingstrategie geartikuleer gaan word, word ook bespreek wat die volgende finansiële veranderlikes insluit:

  • Waardasies van die binnelandse aandelemark en verdienstegroei
  • Die R/$ wisselkoers
  • Toekomstige rentekoersvlakke
  • Waardasies van die buitelandse aandelemark en verdienstegroei

Waardasies van die binnelandse aandelemark en verdienstegroei

Dit is tans baie duidelik dat die markwaardasie van die binnelandse aandelemark baie duur is. As die p/v-verhouding van die Indeks van Alle Aandele  bestudeer word, kan gesien word dat dit ‘n baie hoë 23.05 keer een jaar se wesensverdienste is. Die gemiddelde p/v-verhouding oor die langtermyn is ongeveer 15.7 keer een jaar se wesensverdienste. Sien grafiek hieronder wat die ALSI se p/v-verhouding verteenwoordig.

Hierdie styging in die waardasie van die ALSI is veroorsaak deur ‘n skerp herstel in aandelepryse na die aanvanklike val in aandelepryse na die uitbreek van die Koronavirus, terwyl die verdienste van maatskappye a.g.v. die grendelstaat wat ingestel is beduidend geval het.

Die grafiek wat volg wys vir ons dat die ALSI se verdienstes sover met 27.3% gedaal het vanaf sy hoogtepunt in Februarie 2020. Dit is belangrik om te onthou dat aandelemarkte ten minste 15 maande in die toekoms inkyk en verwagte verdienstegroei verdiskonteer wat ten minste ‘n gedeelte van die herstel in aandelepryse verklaar. Dit is egter PBB se siening dat die indeksvlakke van die binnelandse aandelemark tans slegs maanskyn en rose verwag i.t.v. toekomstige verdienstegroei. Dit is ‘n onrealistiese verwagting, want die tweede golf van besmetting deur die Koronavirus is met Suid-Afrika. Verder is Suid-Afrika ongeveer ses maande agter die inentinginisiatiewe van die G7 lande sonder die finansiële vermoë om dit sinvol uit te rol. Dit is onwaarskynlik dat die tweede golf van Koronavirus besmetting nie ‘n invloed op die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan uitoefen nie, met ‘n gevolglike vertraging in die herstel van maatskappye se verdienstegroei. Die siening sluit nie eers die moontlikheid in dat die regering weer drakoniese grendelstaat maatreëls kan instel nie.

P/V-verhouding van ALSI

Verdienstegroei van die ALSI

Die R/$-wisselkoers

Die ongeveer $7 triljoen VSA-dollars wat die Fed en VSA Tesourie in hul ekonomie en die van hul belangrikste handelsvennote ingepomp het, het die aanbod van VSA-dollars globaal dramaties verhoog. Die netto resultaat daarvan is dat die VSA-dollar teenoor die Euro verswak het, asook teen opkomende lande se geldeenhede waarvan die rand een is. So het die Suid-Afrikaanse rand in die tweede helfte van 2020 skerp geappresieer teenoor die VSA-dollar. Sien die onderstaande grafiek vir die korrelasie tussen ‘n versterkende euro teenoor die VSA-dollar en die invloed op die R/$-wisselkoers.

Die versterking van die rand teenoor die VSA-dollar is iets wat nie onbepaald gaan voortduur nie. Kliënte wat fondse die land wil uitvat, moet die geleentheid gebruik om rand om te skakel na VSA-dollar, veral wanneer die rand versterk.

R/$ en €/$ korrelasie

Die binnelandse rentekoersvlakke

Binnelandse rentekoerse is histories by die laagste vlakke die afgelope 55 jaar. Sien grafiek hieronder wat die prima-oortrekkingskoers oor die laaste 55 jaar verteenwoordig. Dit is duidelik dat die 7% prima-oortrekkingskoers wat tans die geval is laas in 1965 met Suid-Afrika was.

Gegewe die pap binnelandse ekonomie en tweede golf van die Koronavirus is dit onwaarskynlik dat rentekoerse oor die volgende jaar beduidend gaan styg. Die geldmarktekort is nog steeds baie laag a.g.v. ‘n trae vraag na krediet, die inflasiekoers is nie ‘n groot bedreiging nie en besigheidsvertroue is laag. Kliënte wat van rente lewe moet die volgende risiko’s in ag neem en bestuur:

  • Wees versigtig om nie vir ‘n 3-5 jaar termyn geld vas te maak om hoër rente te verdien nie. Drie tot vyf jaar is ‘n lang tyd om jou in ‘n struktuur vas te maak. Soos in ‘n vorige nuusbrief vermeld het dit Zimbabwe slegs 3 jaar gevat om ‘n inflasiekoers van oor die 800% per jaar te skep, vanaf einde 2017. Buigsaamheid om tussen beleggingsgeleenthede te skuif is krities.
  • Pasop om net vir die hoogste rente wat aangebied word te gaan. ‘n Kredietwaardige persoon of sakeonderneming kan tans teen 7%, wat die prima-oortrekkingskoers is by een van die 4 groot banke, leen oor die langtermyn. Hoekom moet ander banke of instelling deposante of beleggers rente betaal wat hoër is as 7%? Die rede is omdat daardie banke en/of instellings se kredietwaardigheid laer is as die 4 groot banke, m.a.w. die moontlikheid is groter vir die deposant of belegger om by die banke en/of instellings sy kapitaal te verloor.
  • Gegewe die feit dat rentekoerse by 55 jaar se historiese laagtepunte is, moet sorg gedra word dat die belegger nie sy fondse vasmaak vir 3 of 5 jaar by hierdie vlakke nie. Rentekoerse gaan oor die volgende 3 jaar normaliseer en opwaarts beweeg.

SA prima-oortrekkingskoers – %

Waardasie van die globale aandelemark en verdienstegroei

PBB gebruik hier die SP 500 aandele indeks as verteenwoordigend van globale aandelemarkte. Ook hier is die waardasie soos uitgedruk deur die hoë p/v van 37.85 keer, baie hoër as die langtermyn gemiddeld van 15.87 keer. Sien die grafiek hieronder vir die duur waardasie van die SP 500 soos verteenwoordig deur die p/v-verhouding. Dieselfde dinamika wat die hoë binnelandse aandelemarkwaardasies in SA veroorsaak het, was ook in die VSA teenwoordig, m.a.w. ‘n vinnige herstel in aandelepryse, maar verdienste per aandeel wat skerp gedaal het.

Dit is ‘n feit dat die verdienste per aandeel in 2021 gaan herstel met gevolglike daling in die p/v-verhouding. In die onderstaande tabel word die konsensus vooruitskatting van die wesensverdienste per aandeel in Amerikaanse sent gegee vir 2020, 2021 en 2022. Wanneer die waardes in ry 1 (wesensverdienste per aandeel) vermenigvuldig word met ry 2 (langtermyn gemiddelde p/v van SP 500) dan word ‘n billike waarde vlak vir die SP 500 bereken in ry 3. So byvoorbeeld is hierdie billike waarde vlak vir die SP 500 in 2021, 2 654. Dit moet egter onthou word dat die aandelemark ten minste 12 tot 15 maande in die toekoms inkyk wat betref wesensverdienste. Gevolglik is die billike waarde vlak van die SP 500 eerder nader aan die 2022 berekening van 3 097, wat 19% laer is as die 3 700 waar die SP 500 tans verhandel.

SP 500 P/E ratio

Billike waarde vlakke van die SP 500

Beleggingstrategie vir 2021

  • Direkte binnelandse beleggingsrekeninge – Tans is PBB ondergewig aan binnelandse aandele. PBB is op die uitkyk vir geleenthede om die portefeuljes se aandele blootstelling te verhoog met aandele wat waarde bied. Veral banke, sowel as maatskappye in die gavryheidbedryf en industriële maatskappye in die medium- en klein markkapitalisasie sektore bied goeie waarde. PBB wag vir ‘n terugtrek in die waarde van die binnelandse aandelemark voordat ons ‘n verhoogde blootstelling aan binnelandse aandele gaan implementeer. Gegewe die lae opbrengs van binnelandse aandele oor die laaste 6 jaar is PBB besig om na alternatiewe beleggingsmoontlikhede te kyk soos verskansingsfondse en ander opkomende markte se fondse. Verder word ‘n vermindering van blootstelling aan staatseffekte oorweeg wanneer kapitaalmarkkoerse laer beweeg. Die versterking van die rand teenoor die VSA-dollar skep ook geleenthede om dollar bates oorsee aan te koop.
  • Direkte buitelandse beleggingsrekeninge – Tans is PBB beduidend ondergewig aan globale aandele. PBB kyk vir geleenthede om die portefeuljes se aandele blootstelling te verhoog met beursverhandelde fondse wat globale waarde aandele verteenwoordig wat meer aanvaarbare waardasies het. ‘n Vermindering van die blootstelling aan Amerikaanse staatseffekte sal plaasvind wanneer kapitaalmarkkoerse laer beweeg. Kliënte moet die versterking van die rand teenoor die VSA-dollar gebruik om fondse direk oorsee te vat.
  • Multibestuur van aftree-annuïteite, lewende annuïteite en kleiner beleggings op gekoppelde beleggingsplatforms – Ook hier is PBB ondergewig aan binnelandse- en globale aandele. Die lae opbrengste wat binnelandse aandele oor die afgelope 6 jaar behaal het noodsaak PBB om alternatiewe beleggingsopsies soos verskansingsfondse en Sjinese fondse wat fokus op hul maatskappye wat in die vervaardigingsektor werksaam is, te oorweeg as deel van ons portfeuljesamestelling. Ons is tans besig met omsigtigheidsondersoeke na dié twee moontlikhede. Nietemin, PBB beplan ook om die bloostelling aan binnelandse aandele te verhoog en die blootstelling aan staatseffekte te verminder.

SP 500 P/V-verhouding